November is so ‘n heerlike maand vir my, ek verjaar in hierdie maand en elke jaar rondom my verjaarsdag, slaan ek die kersboom op. Sommer ‘n dubbele opgewondenheid wat my herinner aan feesvier saam met ander.
Deel van hierdie jaar se feesvier, is om kersversierings te maak saam met my kleinkinders, want lyfies is nooit te klein om in opgewondenheid te deel nie. My dogter sê ons gaan iets met gedroogde lemoene maak wat aan kraletjie lussies vasgemaak word en ek sien nou al uit om dit op te hang aan my boom.
Maar soms is feesvier nie so maklik nie, want die lewe is swaar en ons voel moedeloos met dit wat die nuus en politiek ons vertel. Hoe vier mens fees as daar oorlog is, of as mense nie werk kry nie of as jy alleen is? Hoe vier mens fees as die begroting sê jy kan net die belangrikste dinge betaal en feesvier is nie deel daarvan nie?
Ek dink feesvier is ‘n ingesteldheid, een van opgewondenheid oor wat nog kom, en van dankbaarheid oor wat was. ‘n Mens kan wel feesvier met water in ‘n mooi glas, ‘n melodie op jou lippe en jou mooiste rok aan.
Mag jy ook opgewonde begin raak oor die fees seisoen wat nader kom, en mag jy saam met my, probeer om ander bly te maak.
Liefde
LiLiBeth