Augustus, vrouemaand. Ek het gewonder wat ek sal skryf oor die vrou. Hoe meer mens lees oor die vrou, hoe meer verskillende weergawes van die haar duik op. Sy het soveel rolle, word deesdae heel anders gesien in terme van werk, en as mens sosiale media dophou, identifiseer nie noodwendig met eienskappe wat ‘n paar jaar terug ‘n vrou sou beskryf nie. Elke persoon het ander opinie oor wat ‘n vrou is, hierdie maand deel ek maar net myne.
In Billy Joel se liedjie, “She’s always a woman to me”, beskryf hy die wispelturigheid van ‘n vrou so mooi. So asof sy nie in ‘n spesifieke vorm ingegiet kan word nie, propvol emosies, vrae en geheime. Maar, “… she is frequently kind”, sing hy, sy help mense in nood soos wat Spreuke 31 sê.
In my eie lewe as vrou, het ek geleer dat ek terselfdertyd sag en sterk kan wees. Moed en deursettingsvermoë kom tik my altyd saggies op die skouer as ek wil opgee. Ek hou van my spesifieke lekkerruik goedjies, roompies en mooi sagte onderklere. ‘n Bietjie kleur op my oë en my lippe is vir my genoeg, en die natuur se wit strepe in my hare en ‘n paar ekstra rolletjies om my middel is ‘n teken dat ek lewe. ‘n Valletjie hier en ‘n blommetjie daar op ‘n bloes of ‘n rok laat my glimlag en ‘n mooi kussing, gordyn of ‘n mat maak my opgewonde. Ek hou van sag wees in alles wat ek doen.
Oor ‘n vrou in die algemeen, miskien swem sy winter en somer elke oggend in die see soos ‘n vriendin van my. Dalk plant sy haar eie groente en bak brood soos nog ‘n vriendin. Dalk pluk sy blomme in die veld omdat dit die mooiste is, borsel haar hond se winterpels en sit ‘n bietjie in die son met haar kat op haar skoot. Miskien is sy alleen en wens sy sy was nie. Dalk is sy soms heeltemal oorweldig deur die liefde en omgee van ander. Dalk werk sy korporatief of doen navorsing en is sy moontlik ‘n prater, ‘n helper of ‘n dinker. Sy dra miskien hoë hakke, of loop kaalvoet. probeer skryf in haar joernaal en bid partykeer in die donker as haar kop reeds op die kussing lê. Ek dink sy vergewe dié wat haar seergemaak het sodat sy nie bitter raak nie en ek dink sy vertrou dat God sal sorg vir haar en almal vir wie sy lief is.
Hoe dit ookal sy, vroue verskil en hoe jy ookal vrouwees beleef, weet dat jy spesiaal aanmekaar gesit is, uniek, net een soos jy.
Hoe gebruik jy jou vrouwees om om te gee vir ander?
Liefde
LiLiBeth