Sy bly net so ‘n paar huise van ons af. As ek laatmiddag saam met Lily hond vir ‘n stappie gaan, sit sy buite op haar stoep. Sy kyk meestal ver oor die see uit, maar sien ons altyd raak en groet. Sy is so vriendelik. Al ken sy nie my naam nie en ek nie hare nie, ken ons mekaar. Vriendelikheid bind ons aanmekaar.
In Spreuke 16:24 staan daar dat vriendelike woorde soos heuning is, goed vir die siel en vol genesing vir die liggaam. Hoe waar. Ek voel nie lekker as iemand onvriendelik met my is nie en tog soveel beter as mense eerder vriendelik is. Dit is waar dat vriendelikheid niks kos nie, intdeendeel, ek dink dit maak ons skatryk. Dit vul beursies met glimlagte, stop ander se sakke vol met hoop en laat ons harte oorloop met vreugde.
Vriendelikheid is soos ‘n kosbare potjie heuning wat nooit sleg raak nie. Net een lepeltjie daarvan is genoeg om ‘n seer keel gesond maak, ‘n hoesbui te verlig, ‘n broodjie soet te maak, ‘n seer hart te genees.
Ek dink ek sal vir haar ‘n potjie heuning neem as ek weer verby haar huis stap, en dalk ook vra wat is haar naam.
Hoe kan jy vriendelikheid wys?
Liefde
LiLiBeth