Oor ‘n nuwejaarsrok

Oujaarsoggend stuur my meisiekind vir my ‘n foto van haar: “Kyk die mooi rokkie wat ek aanhet” sê sy, “want ‘n mens moet die ou jaar uit en die nuwe jaar in met ‘n mooi rok aan.” Sy vra: “Hoe lyk Mamma vandag?”

Ek stuur vir haar ‘n foto van myself waar ek kaalvoet by die strandkafeetjie langs die see sit. Ontspanne, met my gunsteling strandrok aan. Kaalvoet sit is nou belangrik, want niemand weet hoe lank dié rustige gevoel sal hou as die nuwe jaar met al sy eise en verantwoordelikhede weer aan die deur kom klop nie.

Haar boodskap laat my toe dink aan wat Prediker sê, dat ons elke oggend feestelik moet aantrek en nie moet vergeet om serpe en kleur as deel van ons uitrustings te dra nie. Hy sê dat ‘n nuwe dag ‘n present is van God vir al ons harde werk, en dat ons elke dag moet doen wat ons hand vind om te doen*. Ek dink hy het geweet dat kleur en sagte materiaal teen ons vel ons beter laat voel oor werk waarvoor ons nie lus is nie.

My voorneme is dus om hierdie jaar elke dag mooi aan te trek, of ten minste mooi oorbelle aan te sit of ‘n knippie in my hare te steek. Ek gaan nie bekommerd wees oor te min of te veel werk nie, want ek gaan elke dag ‘n ‘nuwejaarsrok’ van hoop en moed en rustigheid aantrek, en dan doen wat my hand vind om te doen.

Oujaarsaand trek ek toe mooi aan en steek ‘n knippie in my hare, want ‘n mens kan nie die oujaar uit en die nuwe jaar in, sonder ‘n mooi rok aan nie.

Oor jou: Hoe lyk jou nuwejaarsrok?

*Prediker 9:8-9. The Message vertaling. “Dress festively every morning. Don’t skimp on colours and scarves … Each day is God’s gift. It’s all you get in exchange for the hard work of staying alive. Make the most of each one!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *